Pampoene is die herfskroon op lente- en somerarbeid. En wat ‘n goue, welverdiende kroon is dit nie, veral as jy gelukkig genoeg is om ‘n Delicapampoen in die hande te kry. Want hierdie klein, stewige knapie is, soos jy sal ontdek, geen gewone pampoen nie. Op Doornkraal, naby De Rust in die Klein Karoo, kweek ons dié juweel nou al vir ‘n jaar of drie. En omdat ons weet dat die skil ook heerlik smaak, word dit organies gekweek. Soos dit met die meeste uitsoekprodukte gaan, word die grootste deel van ons oes egter uitgevoer. Die Italianers, veral dié uit die streke Piedmont en die Veneto vir wie gnocchi (daardie verruklike klein kluitjies van aartappel, meel of in hierdie geval pampoen) ‘n stapelgereg is, is hierdie die gesogste pampoen.
Pampoene is geliefd onder al ons mense en in die meeste tuine sal ‘n pampoenstoel ‘n plekkie kry . Die Delicapampoen is egter redelik onbekend in Suid-Afrika en nie algemeen beskikbaar nie – beslis nie by die groot koskettingwinkels nie. Bietjie meer dus:
OORSPONG & TIPE: Delica is ‘n Japannese skorsie en ‘n F1-hibried van die Kabocha-tipe, op Engels bekend as Kabocha squash.
VOORKOMS: Die pampoentjies is rond, effens plat en kompak, effens gerib, met ‘n growwerige voorkoms, ryk donkergroen skil met ligter vlekke. Soms is daar ‘n paar vratte net om ydelheid te vermy. Die semi-harde skil wat ten volle eetbaar is, steek pragtig af by die diep oranje-geel vleis. Gewoonlik weeg hulle tussen 1kg en 3.5 kg – ideaal vir ‘n gesin.
Na hulle gepluk is, gedurende opberging, word die pampoen ryp: die skil verander van groen na groenbruin en die geur word meer gekonsentreer. Delicapampoen se vleis het ‘n fyn, digte tekstuur en is besonder geurig en soet met ‘n neutagtigheid aan die smaak. Gaargemaak, het dit ‘n sagte romerige tekstuur wat herinner aan kastaiings.
STOORVERMOË HEEL VRUG: Heel, vars, onbeskadigde pampoene kan maklik tot 5 maande in ‘n koel, droë, donker plek gestoor word.
STOORVERMOË VERWERKTE VRUG: Gesnyde Delicapampoen is geduldig en hou langer in die yskas as ander pampoene, waarskynlik omdat dit minder vog
bevat. Vir tuisgebruik kan klaargesnyde, rou pampoen gevries word vir ‘n paar maande en gebruik word in bredies en sop. Gekookte pampoenmoes vries ook uistekend.
KULINÊRE WAARDE: Die Delicapampoen is wêreldwyd gesog vir sy veelsydigheid, omdat die hele pampoen eetbaar is: pens en pootjies. Dit kan gerooster, gestoom, gebak, gebraai word – net soos die gees jou lei. Die vleis hou sy vorm redelik goed en die natuurlike suikers daarin karamelliseer tot iets verruklik lekker. Die pampoen gee nie om vir sout of soet behandeling nie en kombineer ook goed met verskillende kase – parmesaan, ricotta, gorgonzola. Dit werk dus uitstekend as vulsel vir ravioli, lasagne, pampoentert, pampoenkoekies, pampoenpasteitjies, maar gee ook nie om vir ‘n romerige risotto nie. Dit hou van kruie soos roosmaryn, salie en tiemie en omhels warm speserye soos kaneel, gemmer en neutmuskaat.
Dit maak ‘n fluweelagtige pampoensop – sonder hulp van ander bestanddele en sal selfs ‘n hand gee by fynkonfyt. Dit maak smullekker bredies en kerries of as eenvoud jou aantrek: eenvoudig geroosterde pampoenskywe. Heerlik!
VOEDINGSWAARDE : Delica Pampoene is ryk aan beta-karoteen, ‘n oranje pigment wat hoog is in antioksidante wat anti-inflammatoriese eienskappe het. Dit is verder ‘n goeie bron van minerale soos koper, kalsium, kalium, natrium, magnesium, fosfor, yster en sink en bevat en klein hoeveelhede vitamiene soos vitamien B, C en E.
RESEPTE:
GEROOSTERDE PAMPOENSKYWE
Dit is van hierdie oondgebakte pampoen wat iemand opgemerk het: Dit smaak lekkerder as ‘n Bar-One!
Was die stof van die pampoen af en sny in skywe. Omdat die vleis so dig is, het ‘n mens nogal ‘n sterk arm nodig hiervoor. As jy die hele pampoen in die mikrogolfoond kook teen die hoogste verstelling vir so 2-3 minute, word jou taak heelwat makliker. Dit is nie nodig om te skil nie, omdat die skil eetbaar is.
Rangskik die skywe op ‘n bakplaat wat gevoer is met bakpapier of gesmeer is met ‘n bietjie olyfolie. Drup dan olyfolie en/of ‘n bietjie gesmelte botter oor die skywe en bak net so met die skil by 180 grade C tot sag. Jy kan die skywe verder optof as jy wil met kaneel, of salieblare in botter gebraai of roosmaryn en knoffel, maar probeer dit eers net so in sy eenvoud. Die pitte is ook eetbaar en kan gerooster word saam met die pampoen. Hou hulle egter dop in die oond, want as hulle te ver bak, smaak hulle bitter en onaangenaam.
PAMPOENSOP
Dié resep van Roger Vergé is aangepas vir Doornkraal se Delica. Die tekstuur van dié sop is soos ‘n sagte liefkosing, die smaak soet, die kleur sag – ‘n egte lekkerny. Met hierdie sop skep jy huiskosherinneringe. Vir 4 mense.
- 1 groot gekapte ui
- ‘n Delicapampoen van 1 kg, geskil en in blokke gesny
- 2 e olyfolie
- 1 k melk
- Sout en varsgemaalde peper
- Om te bedien: 4 dik snye vars plaasbrood, gerooster
Braai die uie sagkens in die olyfolie tot goudkleuring in ‘n swaar pot. Voeg die pampoen by en roer deur en braai vir nog 5 minute terwyl jy af en toe roer om te keer dat dit aanbrand. Gooi die melk by en genoeg water net om die stukke te bedek. Jy kan altyd later verdun indien nodig. Kook tot sag oor ‘n lae vlam en maak fyn met ‘n staafpureerder of voedselverwerker. As jy ryk voel, kan jy 20 ml botter deur die sop roer of ‘n bietjie room bo-oor drup.
PAMPOENMOES
Sny ‘n Delicapampoen in skywe, haal die pitte en vesels in die holtes uit en skil af. Sny op in blokke en sit in ‘n kastrol met ‘n klein bietjie water. ‘n Stukkie kaneelstok of paar kardamonpeule kan bygevoeg word indien verkies. Kook stadig oor lae hitte tot die stukke sag is. Dreineer en laat staan in ‘n vergiettes of sif om af te koel. Haal die speserystukke uit en druk die vleis fyn.
PAMPOENKOEKIES
‘n Ou, ou gunsteling waarvoor Delicapampoen uitermate geskik is. 4 porsies.
- 2 k pampoenmoes afgekoel tot kamertemperatuur
- 2 eiers
- Sout
- ¾ k meel
- 1 e bakpoeier
- Olie vir braai
Klits die eiers liggies en meng met die pampoenmoes. Meng al die ander bestanddele by en laat die beslag staan vir ten minste ‘n halfuur. Braai in vlak olie tot bruin aan weerskante en dreineer op kombuispapier. Bedien met kaneelsuiker en ‘n paar druppels vars suurlemoensap
PAMPOENBROOD
Hier is twee resepte: vir ‘n soet, vinnige broodjie vir tee en vir ‘n plat pampoenbrood gebaseer op die Madeireense Bolo do Caco, letterlik afgebreekte stuk (klip)koek, n.a.v. die plat klip waarop dié soort brood oorspronklik gebak is. Ons sou dit seker hier te lande kon verstaan as ‘n pampoen-askoek in ‘n pan gaargemaak!
PAMPOENBROODJIE
Oorskiet pampoenmoes kan goed ingespan word hiervoor. Genoeg vir een groterige broodjie.
- ¾ k suiker
- ½ k olyfolie
- 2 eiers
- 1 ½ k pampoenmoes
- ¾ k koekmeel
- ¾ k volkoringmeel
- ½ t fyn naeltjies
- ½ t fyn kaneel
- ¼ t gerasperde neut
- Knip sout
- ½ t koeksoda
- ¼ t bakpoeier
- ½ koppie gekapte okkerneute
Verhit die oond tot 180 grade C. Smeer ‘n broodpannetjie van 23 cm en voer die bodem uit met bakpapier.
Klits die suiker en olyfolie tot gemeng en voeg eiers en pampoenpuree by. Meng die res van die bestanddele saam en vou dan deur die pampoenmengsel tot net gemeng. Laat die beslag rus vir 20 minute. Skep in voorbereide pannetjie en strooi ‘n handjievol pampoenpitte oor as jy lus het. Bak tot gaar en tot ‘n toetspennetjie in die middel van die broodjie ingedruk, skoon uitkom. Seker so 50 – 60 minute. Laat bietjie afkoel in die pan voordat dit uitgekeer word.
PAMPOEN BOLO DO CACO
- 250 gr pampoenmoes
- 500 gr witbroodmeel
- ¼ kop olyfolie
- 1 pakkie gis (10g)
- 1 ½ t sout
- 1 t suiker
- ¼ kop water – afhangend van hoe waterig die pampoenmoes is
- 5 salieblare gebraai in 1 e botter
Knie al die bestanddele saam tot ‘n effens klewerige deeg. Sit die deeg in ‘n gesmeerde bak, bedek en laat rys tot dubbel die grootte. Knyp bolle so groot soos hoendereiers af van die deeg en vorm mooi rond. Maak ‘n ronde plat koek in jou handpalm van effens meer as ‘n sentimeter dik. Sit die koeke op ‘n meelbestrooide teedoek, maak weer toe en laat rys weer tot verdubbel. Verhit ‘n swaarboompan tot lekker warm, maar verlaag dan die hitte sodat die koeke nie te vinnig bruin bak nie. Braai die koeke in die droë pan vir ongeveer 8 minute aan ‘n kant tot gaar. Sit ‘n gebraaide salieblaar op elke broodjie. Eet op met botter.
DELICA EN LENSIEKERRIE
‘n Heerlik maklike en goedkoop groentekerrie vir die winter en herfs. Bedien dit op basmatirys en poppadums (wat jy in die mikrogolfoond kan gaarmaak om tyd te bespaar). Vir 4 – 6 mense.
- 1 gekapte ui
- 30 ml olyf- of klapperolie
- 15 ml fyn borrie
- 5 ml fyn komyn
- 30 ml gerasperde vars gemmer of 15 ml fyn gemmer
- 750 g Delicapampoen in blokke gesny – dis nie nodig om te skil nie
- 1 blik klapperroom van 400 ml
- 1 blik gekapte tamaties
- 250 g groen- of bruinlensies, gekook tot net-het sag en gedreineer, maar hou bietjie lensiewater eenkant
- Sout en peper
- Vars koljanderblare en suurlemoenwiggies vir afronding
Braai die ui vir ‘n paar minute tot amper sag en voeg dan die speserye by en braai nog ‘n bietjie tot lekker geurig. Voeg die pampoen by en roer deur.
Voeg nou die klapperroom, tamatie en lensies by en prut tot die pampoen sag is. ‘n Bietjie lensiewater kan bygevoeg word om die sous te verdun indien nodig.
Strooi die gekapte koljander bo-oor en bedien met wiggies suurlemoen,rys en poppadums.
Is dit moontlik om saad van julle aan te koop asb?
Ek woon in Noordwes op n mielieplaas.
Ek is baie lief vir pampoen en het my eie klein groentetuintjie.
Goeie dag, ek is Hans van der Walt van Waterberg Boerdery. Ek sal wil Kontak maak.