Posts

As daar één vrug is wat die hartsverlange van die najaar met sy geur vasvang en herinneringe van vergete tye oproep, is dit ‘n kweper. Die afgeskeepte niggie van Appel en Peer.  Met haar pragtige, rosige bloeisels, knoetsige stam en grysgroen blare is hierdie donsbedekte goue vrug onbekend en ongeliefd by baie.  Kyk, moenie jou om die bos laat lei deur dié niggie nie:  sy is glad nie voor op die wa soos Appel en Peer nie en dit vra heelwat werk en liefderyke aanpor om haar tot haar reg te laat kom.

Baie mense het geen idee wat ‘n kweper is as hulle dit die eerste keer teekom nie.  En nog minder mense dra kennis van hoe om die vrug te gebruik.  Kweper is die Bybelse tydgenoot van granate, vye en olywe, al word dit nie soos die ander drie in die Bybel genoem nie.  Volgens oorlewering was dit ‘n kweper waarvoor Eva geval het in die Tuin van Eden en nie ‘n appel nie. En hoe verleidelik ís die reuk van ‘n ryp kweper nie!

Van verleiding gepraat: As jong vrou was my ma se hartsbegeerte dat my pa vir haar ‘n Bybelse tuin aanlê, met Mediterreense vrugte.  Oor my ma ‘n begeerte gehad het na olywe en kwepers, maar ook omdat sy ‘n meester van die Lang Plan was.  Wat klaarblyklik besef het dat ledigheid die duiwel se oorkussing is – en dat ‘n man met ‘n moë lyf en seer rug nie so vatbaar is verleiding nie.  Ma is reeds die Ewige Rus in, maar steeds ywer Pa aan die olyfoes en kweperoes, en die verwerking daarvan.  Lang plan inderdaad.

Cydonia oblonga is inheems aan die groter Midde-Ooste en groei in klipperige berghange en aan die soom van woude.  Die kweper was bekend aan die Akkadiërs en die koninkryk van Akkad word wel in die Bybel genoem.  My punt is dat kwepers dalk wel in die Bybel genoem word, maar nie by die naam kwepers nie.  Dink maar aan die mooi verse in Spreuke en Hooglied – dis is mos nie moontlik dat die skrywer na Oumatjie Smit verwys het nie!

Die eetkweper is familie van die blomkweper en die Chinese kweper, vandaar dat hulle blomme se vorm ooreenkom.  Die kwepervrug se vorm verskil van kultivar tot kultivar – van appelvorming tot peervormig – vandaar dat die Nederlanders dit ‘n kweepeer of kweeappel noem, of gesamentlik die kweeërs en die boom waaraan dit groei, ‘n kweeboom.  Maar dit daar gelaat.

Kwepers kan oud word – ouer as die meeste mense – dit is dus goed om ‘n kweperboom met die nodige ontsag te behandel as jy haar teekom.  Die beste kweper vir inmaak en jellie, is Cape Selected, wat ‘n wit, romerige vleis het en ‘n hoë pektiengehalte. Volgens Leipoldt is die kulivar Borrie, (‘n borriekweper, Dude…) waarvan die vleis geel en smaak baie aromaties is, die beste geskik vir bredies.  Die beste kweper vir nageregte is Orange[1]. Maar alle voorspoed om hierdie erfeniskultivars te probeer opspoor.

Soos gesê ruik kwepers lieflik lekker en hulle lyk aanloklik, maar jy pluk nie maklik ‘n kweper van die boom af en eet haar daar en dan op dat die sop oor jou ken loop nie.  ‘n Droë kultivar staan ook as ‘n wurgkweper bekend (Afrikaans, Afrikaans die taal van my hart…).  Nee – veel meer subtiel moet jy te werk gaan.  Dit is wel een van die min vrugte wat jy vars kan eet met ‘n strooiseltjie sout daaroor.. En is dit nie eenvoudig detailbeplanning bokant ons begrip en verstand dat kwepers in die herfs ryp word wanneer die behoefte aan bredies en ander gestoofde geregte ewe skielik in jou binneste begin roer  nie?  En nog steeds is daar bysiendes wat nie glo in ‘n Hoër Hand nie.

Kweper is ‘n veelsydige vrug en is dankbaar om in vleisgeregte, soet terte, souse en blatjangs en allerhande lekkernye gebruik te word. Kweper is heerlik in ‘n lamsbredie en ewe lekker op sy eie gestoof met ‘n stukkie kaneelstok of steranys.  Kweper se skil word dun en sag met gaarmaak, anders as appels en pere, en die vleis verander van ‘n roomkleur of ligroos na ‘n diep robynrooi kleur hoe langer dit gekook word.  As kwepers dus in seisoen is, moet jy inspring.  Vars kwepers vries verbasend goed vir ‘n maand of drie:  skil die vrugte, sny in wîe, verwyder die stronke en doop in vars water waarby ‘n goeie skoot suurlemoensap gevoeg is.  Of, was die vrugte goed, sny in die helfte en vries net so.

‘n Omvattende versameling resepte vir kwepergeregte is te vinde by Errieda du Toit se blog, Huiskok[2].  Die resepte wat hier verskyn is vir suiwer, onvervalsde kwepers wat jy gerus kan probeer om jou kweperlus te stil.

Gestoofde kwepers

Doodeenvoudig en lekker om te eet saam met vark- of wildsvleis.  ‘n Paar skyfies teen drieuur smiddags as jy flou voel, smaak vorentoe en verrig wondere.  Bottel terwyl dit kokend warm is in gesteriliseerde flesse en verseël vir latere gebruik.

  • 4 – 5 kwepers
  • 1 k suiker
  • 2 k water
  • Lekker stukkie gedroogde nartjieskil of 2 e afgerasperde lemoenskil
  • 2 stukkies kaneelstok
  • 4 naeltjies

Was die kwepers af en sny in skywe.  Verwyder die klokhuise, maar voeg ‘n paar kweperpitte by die skywe vir ‘n dieper kleur.  As jy wil, kan jy die kweper skil, maar dit is ekstra werk.  Voeg die ander bestanddele by en stowe stadig tot sag met ‘n dikkerige stropie.

Gebakte kwepers

Ma het graag kwepers in die Aga-stoof gebak – lank en rustig – sodat die hele huis naderhand na kwepers geruik het.  Dis so maklik soos val uit ‘n kweperboom uit:

  • 4 – 5 groot kwepers, skoongewas en oorlangs in die helfte deurgesny en elke helfte in vingerdik-skywe.
  • Stukkie kaneelstok of steranys
  • 2 k water
  • ¾ – 1 k suiker

Pak die opgesnyde helftes met die velkant na bo in ’n kastrol. Sit ’n stukkie kaneelstok of steranys in die kastrol en gooi die water by. Strooi nou die suiker oor, sit die deksel op en stowe 1 – 1½ uur sag in ’n oond (160 °C).  Eintlik hoe langer, hoe mooier word die kleur.  ‘n Bietjie suurlemoensap daarby kan ook nie kwaad doen nie.

Kweperkaas

Kweperkaas is ‘n veelsydige en heerlik om te eet saam met kaas, op soutbeskuitjies, op roosterbrood of in ‘n toebroodjie of as jy lus het vir ‘n soetigheidjie.  Dit kan selfs gebruik word as vulsel in konfyttertjies.

  • 1 kg kwepers (gewig ná voorbereiding)
  • 3 ½ k suiker
  • 2 e suurlemoensap
  • 1 k water

Was die kwepers, skil hulle en sny die klokhuis (stronk) uit en sny op in 1.5 cm blokke. Weeg die kwepers af. Plaas al die bestanddele in ‘n swaarboomkastrol en verhit oor medium hitte en roer totdat die suiker gesmelt is.  Prut oor lae hitte en roer af en toe totdat ‘n die mengsel ‘n  temperatuur van 105 grade C bereik. Dit sal ‘n uur of meer neem en die kwepers sal ‘n mooi robynrooi kleur aanneem.

Smeer ‘n langwerpige of vierkantige glasbak van so 20 cm x 20 cm.  Puree die kwepermengsel in die kastrol met ‘n handpureerder tot glad.  Gooi die warm mengsel  in die glasbak en maak glad bo-op.  Laat afkoel tot kamertemperatuur en bedek dan met plastiekfilm.  Verkoel die kweperkaas tot dit ferm is dop uit die glasbak.  Plaas die blok op ‘n plat sif (soos ‘n afkoelrakkie) bo-op ‘n oopgesnyde plastieksak en laat vir so vir 10 – 14 dae verder droog word op ‘n koel, droë plek.  Draai die blok elke dag om.  Sny in kleiner blokke en draai indiwidueel toe in plastiek, of sny in lekkergoedblokkies en rol die blokkies in strooisuiker voordat dit lugdig verpak word.

[1] Eve Palmer, Return to Camdeboo – lees dit sommer weer vir die lekkerte

[2] https://huiskok.com/2014/06/25/kwepers-vir-die-groot-onthou/